Rooi Boerbokke meer as nuwigheid

Deur Louw Pretorius

 

Mnr. Ben Vorster van Xmas Tshipise, se Boerbokke is rooi. Sonder ‘n titseltjie wit. Die enigste beduidenis van ‘n ander kleur is die glansende goud-rooi van die ouer ramme se baarde.

Mnr. Vorster ken Boerbokke van kleintyd af. Hy is agter die Soutpansberge gebore en getoë in die tyd toe wildwerende heining nog onbekend was. Toe reeds het meer as een boer besef dat bokke sinvol by so ‘n boerdery ingeskakel kan word omdat hul nie met beeste om kos meeding nie. Beeste benut die gras en bokke verkies die bos.

In die beginjare tagtig het een van die ooie twee jaar na mekaar ‘n tweeling gelam waarvan die een heeltemal rooi was. Die lammers het in pragtige bokke ontwikkel en het minstens die voordeel gebied dat hulle in die uitermate warm Bosveld nooit probleme vanweë te min pigment sou ondervind nie. Dan was daar ook die storie dat arende nie maklik die rooi lammers vang nie. Dit was die begin van sy rooi kudde.

 

 

Op soek na nuwe bloed

Sedertdien is die boer knaend opsoek na rooi bokke, hoofsaaklik om nuwe bloed te bekom. Daar is juis nou ‘n jong rammetjie op die plaas wat uit ‘n ander kudde kom. Groot en klein is daar reeds 90 bokke in die rooi kudde.

Met droogte as algemene verskynsel in die gebied, het die hele boerdery op Xmas verander. Waar vroeër met ‘n kommersiële Drakensberger-kudde geboer is, spits Mnr. Vorster hom hoofsaaklik op sitrus-uitvoer toe. In 1984 is die beeste verminder en het hy na ‘n Drakensberger-stoetery oorgeskakel.

 

 

Net op veld aangehou

Die beskikbare grond op die plaas bestaan uit 2 070 ha wat benut word teen 15 ha/GVE. Dit maak ook voorsiening vir die wild op die plaas. Dit beteken die veld kan 138 GVE dra waarvan sowat 17% aan die bokboerdery toegedeel is. Die bokke gedy vanweë die rooibos, rooibospeul of hardebos, bessiebome soos rosyntjiebos, ‘n kanniedoodstruik en kruiebossie. Daar is ook heelwat mopanieveld wat eintlik die bokke se winterweiding is.

Die bokke word net op die veld aangehou - selfs sonder ‘n lek. Net in lamtyd word hulle weens probleme met jakkalse in klein kampies aangehou waar hulle gemaalde lusern as byvoeding kry. Sodra die lammers ‘n week oud is, gaan die ooie bedags veld toe. Wanneer die lammers die maande oud is, loop hulle saam met die ooie. Snags word die bokke gekraal.

In normale jare is ‘n lampersentasie van 200 iets algemeens. Oor die afgelope die jaar van droogte het dit tot sowat 140 gedaal. Van 38 rooi ooie is die afgelope lamseisoen 54 lammers verkry.

Al die aanteel word tot op slag- of teel ouderdom grootgemaak. Sowat 30 ooilammers word elke jaar vir vervanging gebruik. Die res word saam met die kapaters bemark.


Vleiseienskappe

‘n Interessante verskynsel is dat nog nie een van die rooi ooie op die plaas al ‘n wit lam gehad het nie wat beteken dat die rooi kleur baie dominant is. Selfs ‘n wit kol by die rooi ooie is ‘n uitsondering. Net rooi ramme word by die rooi ooie gebruik.

Wat vleiseienskappe betref, staan die rooibokke geensins vir hul wit eweknieë agteruit nie, sê Mnr. Vorster.

 

 

Landbouweekblad, 28 Junie 1996