Dit is hoe ek met Rooi Bokke Begin het.

Ek het ’n boerbok stoet gehad waarvan een van my ooie 2 jaar na mekaar, ’n tweeling gehad het, waarvan die een so rooi soos ’n bonsmara bees was. Toe hulle volwassenheid bereik het ek besef hierdie bokke is uniek. Ek het al die beamptes van Vleissentraal in die gebied gevra om my te help soek vir nog sulke rooi bokke. Op die ou einde het ek 2 ooie en ’n ram gekry. Ek het met vier ooie en ’n ram begin teël. ’n Vriend van my se swaer, het eendag saam met my na my plaas toe gery waar die bokke was. Hy het die rooies gesien en genoem dat hy by ander boere ook sulke rooi bokke gesien het. Louw Pretorius van die Landbou weekblad, het iewers van my rooi bokke te hore gekom en my gekontak om sodoende ’n artikel vir die landbou weekblad te skryf. Hy het my kom besoek, foto’s geneem en my uitgevra oor die ras. Toe die artikel in die Landbou weekblad van 28 Junie 1996 verskyn, het Chris Strauss, Albie Horn van die Kaap en Tollie Jordaan my gebel om al my rooi bokke te koop. Ek het aan hulle gesê dat geen geld my rooi bokke sal kan koop nie. Teen die tyd wat die artikel verskyn het, het ek al oor die 30 ooie gehad. Ek het my vriend se swaer, Jimmy Faber, wat in Namibië ’n afslaer was, by Namibië Live Stock Auctioneers, geskakel. Hy het my met 3 telers uit Namibië, wat bereid was om aan my bokke te verkoop, in aanraking gebring. Ek en Corrie (my vrou) vat toe Oktober 1996 die pad Namibië toe oor Vrede in die Vrystaat waar ek onder andere ’n Drakensberger bul gaan koop het. Daar ontmoet ek vir Patat du Toit, wie my toe nooi om by hom ’n draai te kom maak. Ek het ook by Faan Dryer 6 ooie met 6 lammers en 1 ram gekoop. By oubaas Klein het ek tien ooie gekoop. Patat du Toit se buurman het aan my ’n ram verniet gegee. Hy het gesê hy kan nie vir ’n man wat so ver gery het geld vra vir een ram nie. Terwyl ons in Namibië was het ons een aand huis toe gebel om by die seuns te hoor hoe dit gaan. Hulle sê toe dat Charles Willemse gebel het om te sê hy sal ook aan my ’n paar rooi bokke verkoop. Ek het in 1997 na hom toe gery en daar langs die Tankwa Natuur Reservaat, een ram en een ooi gekoop. (Ek het nog die foto’s van die bokke wat ek gekoop het) Dit was die laaste keer dat ek ’n rooi bok gekoop het. (Kalahari Reds soos hulle nou bekend staan)

Na ’n paar jaar se boer met die rooi bokke het Joubert Fourie my eendag geskakel en my gevra of ek kapaters het wat hy wou braai op n boere dag. Ek het gesê hy kan kom kyk. Vroeg die volgende oggend het ek na my bok plase, Bek en Van Heerden gery om vir hom 5 kapaters uit te soek. Met Joubert se aankoms het hy na die bokke op die bakkie gekyk en aan my gesê dat 3 van die kapaters is nie vir hom vet genoeg nie. Hy het in die kraal geklim en vir homself kapaters uitgesoek. Nadat hulle gelaai was, het hy terug in die kraal geklim en vir ’n halfuur tussen die kapaters rondgestap. Hy het na my gekom en gesê hy wil dit nie graag sê nie maar hy moet, want sy twee oë sê dit vir hom - die rooi bokke is almal vetter as die boerbokke. Die volgende week het Joubert en Tobie Fourie hulle eerste rooi bokke gekoop.

Dis hoe ek met die rooi bokke begin boer het. Kort hierna het ons die Kalahari Red klub begin.

Groete

Ben Vorster