Net 'n rooi boerbok???

THEUNS BOTHA ( This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. )

Telers van Kalahari Red-bokke is oortuig dat dié ras bewese voordele vir die bedryf inhou. Dit gaan nie net om die gesogte kleur van die bok nie. Prestasietoetsing en gehardheid speel ook 'n groot rol in hul teelbeleid. Landbouweekblad het by een van die pioniertelers gaan uitvind wat die ras so uitsonderlik maak.

Mnr. Tollie Jordaan van die plaas Grootvlakte in die distrik Somerset-Oos trap versigtig en oorweeg elke woord wanneer hy gevra word of daar inderdaad, benewens kleur, wesenlike verskille tussen die SA Boerbok en die Kalahari Red bestaan.

       

Hy is immers familie van die bekende Jordaans van Somerset-Oos wat in die 1950's begin het om die inheemse bokke wat later as die SA Boerbok bekend sou staan, te veredel. Met sy pa, Paul, wat diep spore in die Merinobedryf getrap het (hy was onder meer voorsitter van Merino SA), ken Jordaan die politiek en emosie as dit by rasvergelykings kom maar al te goed.

Hy stuur die gesprek vinnig in 'n ander rigting. "Terwyl ek in 1994 met die uitvoer van lewende SA Boerbokke na Amerika besig was, het 'n Amerikaner wat lank hier gekuier het, opgemerk dat ons dit ernstig moet oorweeg om bruin bokke te teel. Ek het kort vantevore in die omgewing van Hopetown toevallig 'n stuk of vier bokke wat egalig rooibruin was by 'n bruin boer gesien."

       

Ná die Yank se vertrek is Jordaan terug na die plaas om vir hom agt bokke aan te skaf. Hy het ook in Namibië en in die Oos-Kaap 'n paar rooi bokke in die hande gekry. Min of meer dieselfde tyd het twee ander boere, mnre. Albie Horn van De Aar en Louis van Rensburg van Prieska, ook met die rooi bokke begin boer.

Hoewel daar niks met dié bokke se vrugbaarheid geskort het nie, was Jordaan aanvanklik nie met hul koppe beïndruk nie. "Hulle het ook kort lywe gehad waarvan ek regtig niks gehou het nie."

Omdat die beskikbaarheid van goeie ramme in daardie stadium die grootste probleem was, het die stuk of tien boere wat toe saam sowat 500 bokke besit het in 1998 besluit om hul kragte saam te snoer en 'n klub met die naam Kalahari Reds te stig. Teelmateriaal is onderling uitgeruil. Danksy embriospoeling en SA Boerbokooie wat as surrogaatmoeders ingespan is, kon Jordaan sy eie kudde vinnig uitbrei. Hy boer tans met sowat 200 ooie.

       

"Weens die onbekendheid van die ras was daar nie sprake van 'n mark afgesien van die paar boere wat destyds daarmee geboer het nie. Ek het die boerdery gevolglik meer as 'n stokperdjie beoefen en my veral op die bokke se bouvorm toegespits."

Maar, afgesien van kleur, hoe verskil die Kalahari Red van die SA Boerbok? pols ek hom nog 'n keer. "Kyk, man, daar is meer verskille binne 'n ras as die verskil tussen die twee rasse," systap hy, soos 'n blitsige Brian Habana, die vraag. (Dié verduideliking klink oorbekend. Dit is mos die antwoord wat Merinoboere altyd gee wanneer hulle oor die verskil tussen wolskaaprasse uitgevra word, dink ek.)

Wanneer hy my teleurstelling opmerk, verduidelik Jordaan dat die Landbounavorsingsraad DNS-toetse gedoen het toe daar in 1998 aansoek gedoen is om die ras te registreer. Dié toetse het getoon dat daar 'n groter verskil tussen die Kalahari Red en die SA Boerbok was as tussen die Savanna-bokras en die Boerbok. "Die verskil tussen die Red en die Boerbok was groot genoeg dat eersgenoemde deur SA Stamboek as 'n afsonderlike ras beskou en aanvaar is.

"Alle vleisbokke in die land is buitendien uit inheemse bokke geteel. Ons voor-ouers het daarvan gehou om die veredelde Boerbok met sy rooi kop en wit lyf in die kampe te sien wanneer die vee bymekaargemaak moes word. Ten opsigte van diefstal en roofvoëls is dit egter 'n groot voordeel om met 'n egalige bruin bok te boer. Hulle word nie so maklik in die veld raakgesien nie.

"Nog 'n eienskap van Kalahari Reds is dat hulle 100% gepigmenteer is en gevolglik uitstekend in uiterste hittetoestande vaar. Ons lede is ook baie op prestasietoetsing ingestel. Ons hoop om dit oor vier jaar verpligtend te maak. Daar word groot klem gelê op aspekte soos goeie moedereienskappe en dat die bokke in die veld moet lam en baie vrugbaar moet wees."

       

Hy skat die genepoel van die 23 lede op meer as 3 000 teeldiere. "Hoewel dit aanvanklik moeilik was om 'n plaaslike mark vir die teelooitjies te kry omdat die ras so onbekend is, het telers in die buiteland dadelik die voordeel van die eenvormig gekleurde diere ingesien. Embrio's word tans na lande soos China, Argentinië, Brasilië en Australië uitgevoer."

Jordaan erken dat indien die telers van Kalahari Reds die ras binnelands meer bekend wil stel, daar inderdaad met die diere geskou sal moet word. "Die samewerkingsooreenkoms wat met die SA Boerboktelersvereniging bereik is, sal ook help om status aan die ras te gee. Daar word sterk gesteun op die rasstandaarde wat die SA Boerboktelersvereniging vir sy eie ras gestel het.

"Suid-Afrikaanse boere is gek na rooi beeste. Ek glo namate hulle meer van die rooibruin bokke te sien kry, hulle net so in aanvraag sal wees. Wil ons egter vooruitgaan, is dit onontbeerlik om saam met die wetenskap te loop en BLUP as 'n hulpmiddel in te span. Dit is belangrik om 'n balans te vind tussen die uiterlike kenmerke en dit wat gemeet kan word," sê hy.

Jordaan, wat as 'n internasionale beoordelaar van SA Boerbokke in Amerika opgetree het, sê dit is jammer dat Suid-Afrika nie teelmateriaal regstreeks na Amerika kan uitvoer nie. "Elke keer as ek in Amerika kom, word ek oorval met navrae van boere wat Kalahari Reds soek. Nou moet hulle teelmateriaal via Australië invoer, wat die koste onnodig opjaag."

Voor daar gegroet word, gaan maak ons 'n draai in sy skeerhuis om 'n paar foto's te neem. Wit Merinowolvagte rys soos vars beskuit uit die wolbakke. "Ja," sug Jordaan, "waar is die dae toe boere 'n pond vir 'n pond wol gekry het?

"Pas 'n mens nie by die veranderde tye aan nie, stagneer jy. Só ook met vleisbokke. Ek glo die Kalahari Red is 'n ras vir die toekoms en dat diegene wat reeds daarmee boer 'n goeie voorsprong het. Wat kan nou mooier wees as 'n vet, gladdehaar, donkerrooi bok?"